Hoekom so vroeg op Hasie?

 

Dit wys 06:20 AM regs onder op die pc skerm en vir meeste mense is dit al laat. Dalk is jy al oppad werk toe die tyd van die oggend. Hel, dalk is jy een van daardie “morning people” wat sommer self kies om nou al wakker te wees. Whoopie vir jou want ek is verseker nie ‘n oggend mens nie. Sodra ek opstaan as dit so vroeg is, loop ek meeste van die oggend en nies want ek is allergies vir so vroeg opstaan. Daar is gewoonlik nie genoeg koffie om ‘n glimlag op my bakkies te kry nie.

Voor ek my man ontmoet het, het ek ‘n gewone werk gehad en na myself omgesien. Ek moes half agt in die oggend by die werk wees en ek het my mooimaak sessie soos ‘n martial art verfyn sodat ek eers sewe uur hoef op te staan. Die dae wat ek nie my hare geblaas het nie, wat dit kwart oor sewe. Yes, I am that good. Nou bly ek in Zim op ‘n plek wat self met google maps moeilik is om te vind en ek kan/hoef nie te werk nie. Dus staan ek op wanneer ek wil. My reël is dat sodra die eerste sonstraal deur die gordyn glip is ek op EN vriendelik. Hierdie tyd van die oggend is daar geen sonstraal en ek self is ook glad nie een vanoggend nie.

So hoekom is ek so vroeg op? Want my f@#%@# hanslam het skeidings angs en as hy nie iemand van sy “trop” gewaar nie, loop hy en skree soos een wat se keel afgesny word. Hy weet ook baie mooi waar is my kamervenster. Hier staan jy nie op met die kraai van ‘n hoender nie maar met die blêr van ‘n evil skaap. My man het Skaapie (ja dis nie moerse oorspronklik nie) bo uit die quarry gered toe hy agter kom dat die klein lam al vir dae op dieselfde plek is en daar nie ‘n trop in sig is nie. Skaapie was baie naby aan die dood en kon nie eers staan nie. Daar was nie veel lewe in daardie groot bruin oë mee oor nie en dit het van juffrou ek-het-nie-‘n-werk afgehang of hy gaan lewe of nie. Ek het elke drie ure opgestaan om hom te voer. Sy hokkie is in die sitkamer opgeslaan en ek het op die bank langs hom geslaap. Hy het ook siek geword met maagwerkings wat beteken het dat ek elke uur moes opstaan om hom skoon te maak, water te gee en om hom te motiveer om te lewe. Dit het vir drie weke so gegaan. Ek was verby moeg gewees.

Skaapie het dit natuurlik gemaak maar ek was ook nou amptelik sy ma. Om gou badkamer toe te gaan was ook nie meer so gou of privaat nie. Hy sou voor die deur staan en tekere gaan of sommer dit oopskop. Dan kom staan hy, die hond en watter een van die katte ookal in die huis was en kos soek vir my en kyk. Ek het stage fright en dis moes ek weer my ninja skills toepas net om te gaan pie-pie. Ek het nie gedink dis snaaks nie. Sy slaap roetine was ook ‘n probleem want hy wou nie soos ander skaapie as dit donker word slaap nie. Hy wou ook nie sonder my naby gaan slaap nie. Dit het baie gekos om hom in ‘n roetine te kry. Nou half sewe die aand gaan staan hy langs sy hok en roep. Jy moet hom dan intel, sy bottel vir hom gee, sy warmwatersak in sit saam sy teddy en hom toe gooi met ‘n kombersie. Mis enige van hierdie stappe en Skaapie verloor sy shit. Ja, my skaap gooi tantrums.

In die oggend sodra daar ‘n liggie is wil hy uit maar almal moet saam hom wakker. Soos reeds vertel sal hy tekere gaan tot hy my sien. Ja, net sien. Hy maak oog kontak na sy performance en dan gaan wei hy. So nou is ek wakker en diep binne my begin ek dink aan skaapstert oor die kole kom Desember. Hopenlik na ek koffie in het sal ek beter voel en moenie eers laat ek begin tekere gaan oor slegte koffie nie maar dis ‘n vroeg oggend rant vir ‘n ander dag.

So as jy oppad is werk toe, reeds by die werk is of wakker is oor jou eie kinders sê ek goeie môre en mag jy ‘n geseënde dag hê. Ek gaan nou maar afstap groente tuin toe en by my spinasie gaan pleit om asseblief te groei want nie eers die skaap wil hulle eet nie.

 

Die Wit Hasie

PS Het ek genoem hy dink ook hy is ‘n hond en probeer soos die jackie op die bang slaap? Ja, hy hardloop selfs saam as sy gaan blaf by die hek. Ek sweer ek sit en wag vir die dag dat hy saam begin blaf.

Advertisements

12 responses to “Hoekom so vroeg op Hasie?

  1. *skok!* Sy stert mag nie oor die kole braai nie; hy het dan ‘n naam. As jy eers naam gegee het, is hy deel van jou lewe. Hoe lank leef ‘n skaap? Jy gaan vir al sy lewensjare ‘n skaap-ma wees. 😀 Dankie, ek het lekker gegrinnik so vroegoggend.

    Liked by 1 person

    • Ag ek is eintlik net grootbek. Ek het nie eers die hart om met die poephol te raas nie. Veral nie as hy nou eers wil kom soentjie nie. Sy rook gewoonte is egter ‘n probleem en ek het as skaap-ma gefail. Klein stouter steel en vreet stompies!

      Liked by 1 person

  2. Toemaar, ek het ook agter in die ry gestaan toe “oggend mens” karakter eienskappe uitgedeel is. En more is dit terug skool toe vir die kinders wat beteken ek moet half 6 opstaan. Eish…. Ag, Skapie klink te oulik, hy het jou “hook, line and sinker” as sy ma aanvaar!

    Liked by 1 person

  3. Ek het laaaaank gelede ook ‘n hanslam gehad … haar naam was MêMê.

    Ek stem saam met Hester: as jy hom eers ‘n naam gegee het, kan jy hom nie eet nie. Al voel dit partykeer jy hap sommer so rou ‘n hap van frustrasie …. 😉

    Like

  4. Dis die tyd van die oggend wat ek amper klaar geswem is, maar ek is ook nie ‘n oggendmens nie. Ongelukkig moes ek aanpas en soms is die oggende tog seerkry mooi

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s