Die Trooskombers

images.jpg

Die Trooskombers

 

 

Ek kan nie onthou hoe ek hier gekom het of wat my lewe was voor ek haar ontmoet het nie, maar al die beste stories begin so. ‘n Nuwe lewe saam die regte persoon.

Die eerste dag  wat ek jou ontmoet het, was glad nie ‘n sprokie. Jy het vreeslik geskree en gehuil. Hulle het jou probeer kalmeer, maar net meer paniekerig geraak as jy harder huil. Warm gehuil en natgesweet het jy begin bewe. Jou eie liggaam het nie eens meer verstaan wat aangaan nie.

“Gee net vir my die blerrie kombers aan!” het ‘n vrou geblaf en toe?

Toe vou hulle my om jou kleine lyfie.

Jy het my vasgegryp met vet handjies en jou nat gesig diep in my voue gedruk. Ek het my styf om jou gewikkel, jou krulkoppie in ‘n kappie toegemaak sodat die wrede wêreld om jou sou verdwyn en jy net my kon sien en voel. Groot groen ogies het na my gekyk en ek kon my eie groen in hulle sien.Die trane het op gedroog, die snikke het minder geword en ‘n glimlaggie het op jou gesiggie kom sit terwyl jy binne my aan die slaap geraak het.

“Wat het nou gebeur?” het die vrou gefluister.

“Ek wil nie te opgewonde raak nie,my skat, maar ek dink ons het so pas ʼn trooskombersie gekry,” het die man gefluister.

Terwyl jy soet geslaap het, het ek twee baie moeg grootmense oor jou sien waak en ek het besef my werk is groot. Ek sal nie net vir jou moet troos nie, maar ook vir hulle.Almal weet tog ouers kry saam met hul kinders seer.Dis hoe ons storie begin. Ek het jou gevoel, jy het my gevoel. Vir altyd sou ons mekaar sʼn wees

 

 

 

 

Hierdie jaar sal dit jou 36ste verjaardag wees. Ek voel my werk is nou maar net om jou warm te hou op koel aande. Jy het so mooi groot geword en nog mooier ouer geword. Ek het nie meer nodig om te troos nie, want vir ‘n baie lang tyd nou al gaan dit net goed. Ek spandeer luilekkerdae op die bed met die son wat my warm bak.  Een keer per maand word ek in die lekkerste seep gewas en deeglik gevoer met versagter wat so lekker ruik dat ek byna myself wil liefkoos. Dan praat ons nie eens van die warm tuimeldroeër wat my so lig soos ‘n veertjie laat voel nie.Daar is geen kombersie so gelukkig soos ek nie. In die aande krul ek saam jou op voor die televisie om ons gunsteling stories te kyk. Snags slaap ek styf teen jou, maak nie saak hoe warm dit is nie.

Daar is dae, wat jy bietjie af voel en dan is ek daar om jou weer te laat glimlag soos altyd, maar nou dat jy met Neels getroud is, is dit hy na wie jy draai vir troos en vir glimlaggies.Dit is heeltemal in die haak met my, moenie jy ooit sleg voel daaroor nie want behalwe dat Neels so goed is vir jou, is hy net so goed vir my. As jy laat aande moet werk of iewers heen gaan waar jy te skaam is om my te vat, dan is dit hy wat saam my televisie kyk en my styf vashou.Soms gesels hy met my kan jy glo? Hy sal dinge sê soos; “Kom, ou kombersie, ek mis my vrou. Kom troos my.” of “Blerrie kombersie, plaas keer jy dat ek so bier drink. Kom troos my babalaas.”  en dan lê ons heeldag en televisie kyk en sommer slaap op die bank.

Ek het die beste lewe…

Ons het die beste lewe en ek wag opgewonde vir die dag wat ek jou klein mensie se klein lyfie kan troos. Julle oefen tog hard genoeg vir een. Ja, jy dink verniet ek sien nie.Nee,moenie jou daaroor bekommer nie,  want dit is mooi.Kombersies kan nie, soos mense, hul liefde wys nie.Dit is pragtig dat julle mekaar se vleiskombersies is, Al weet julle dit nie,kan ek dit hoor as ek oor julle lê.  Ek kan hoor hoe julle harte een word en saam klop.Met julle eerste ontmoeting het joune so vinnig geklop soos ʼn hasie wat oor die grasveld hol.Hy was ʼn ou, lui olifant wat stadig aanstap.Nou klop julle harte saam – rustig, ritmies, melodieus. Doef-doef, twee drie, doef-doef twee, drie.Altyd.  Ek was al oral saam jou, selfs tot op Kilimanjaro maar hier saam Neelsis my gunsteling plek. Ek sê dit weer, ons het ‘n goeie lewe.

 

 

 

Vandag was nie ‘n goeie dag nie. Ek voel dit heeldag al aan my soompie.

Dit moes wasdag gewees het, maar niemand het my gewas nie.

Dis nou al laat die aand en ek is steeds in die kamer. Nog niemand het na my kom soek of my eens kom groet nie. Ek kan hoor hier is mense, maar selfs met ‘n braai mag ek saam braai, want ek hou knieë warm.

Het ek iets verkeerd gedoen? Is hulle kwaad vir my?

Seker nie, ek is jou trooskombersie en ek is Neels se  tjomma-kombers.

Julle sal nooit vir my kwaad wees nie. Iets is nie reg nie. Ek voel dit aan my soompie.

Nog altyd as jy seer gehad het, het ek dit so aan my soompie gevoel nog voor jy eers aan my gevat het. Dit voel altyd asof my soompie gaan losskiet en as jy eers kom met al jou hartseer dan moet ek mooi jou troos en sommer ook myself om te keer dat daardie soompie nie losskiet nie.

Ja, ons twee is al baie storms deur, maar hierdie een voel anders.

Dan word dit stil.

Die deur gaan oop.

Jy sit nie die lig aan nie, trek nie jou pajamas aan nie.

Maggies, jy skop nie eers die gooikussings af nie. Ek haat dit om ‘n bed met hulle te deel. Klomp bakvissies.

Nee jy val somme net op die bed neer, vou my so styf om jou dat ek bang is ek wurg jou en dan kom dit…

‘n Skreeu-geluid soos ‘n dier wat gemartel word. Dit hou so lank aan dat ek begin wonder of ons waarlik alleen in die kamer is. Vrees kom sit hier tussen my garings want hierdie is iets wat ek jou nog nooit sien doen het nie.

Rou snikke skiet uit jou soos ‘n masjien geweer. Trane skiet van oral uit jou gesig, elke hoek van jou oë, jou neus , jou mond…. dis onkeerbaar, selfs vir ‘n sagte trooskombers.

Ek weet mense huil anders agter ‘n toe deur waar niemand kan sien of hoor nie,maar hierdie is soos een wat doodgaan.

Is dit wat fout is met haar?

Is dit hoekom my soompie so voel?

Sy gaan dood?

Sy huil soos die eerste keer wat ek haar gesien het.Eintlik soveel meer.

“NEEEEE NEELS NEEEEEEE!” skree sy. Sy is ontroosbaar.Sy skree en huil en snik tot haar asem weg is en dit net die trane is wat loop. Neels, ja dis wie ons nodig het. Waar is Neels?

Saam met die skielike vrees kom maak nog iets hom tuis in my voue; paniek.

Ek is nou paniekerig soos haar ouers daardie eerste dag was.

Waar is Neels? Waar is my tjomma? Hoekom kom troos hy nie?

Ek vra die vrae wat ek reeds die antwoord weet. Ek wil nog stywer as wat ek kan, om haar vou. Ek gaan nie hierdie kan troos nie.Neels is weg en hy kom nooit weer terug nie.

‘n Soompie skiet los en ek word ‘n roukombersie.

Ek was daar vir al haar seer. Toe sy tande gekry het, na nuwe kos oor gegaan het en haar magie seer was. Ek was daar vir elke donderstorm en slegte droom. Ek was daar toe die doek geruil is vir die potjie en ja, ek het baie aande doek gespeel.

Ek was daar vir die eerste aand voor skool toe sy bang in my gehuil het en my vertel het hoe sy nie wil gaan.Ek was daar vir die eerste maatjie wat met haar lelik was, die juffrou wat net raas, haar ouers wat kwaad is oor swak punte, stukkende knieë en elmboë.

Ek was daar vir die draadjies, die tiener angs, die eerste kys en die einde van daardie kys.

Ek was daar saam ‘n lyfie wat van meisie na vrou gegaan het, ek was daar vir hoërskool se mean girls, stres oor punte en die fights oor haar houding dan het sy my sommer bygekom. Ek is bedazzled en gevalletjie en weer los getrek om plek te maak vir alles rock and goth.

Ek was daar vir die eerste tree in die grootmenswêreld en ook die seer wat daarmee saamkom. Ek was daar vir die eerste groot liefdesteleurstelling wat haar byna gebreek het. Ek was daar vir alles. Om haar, teen haar, besig om elke traan op te vang en te luister na al die dinge diep binne haar wat sy nie durf voor mense sê nie. Ek sal dit vir niks ruil nie. Ek sal dit ‘n duisend male oor doen as ek net hierdie een keer kon mis.

Ek was vir alles daar, maar ek wens ek was nie nou hier nie.

 

 

Vir dae het sy net so gelê, met my om haar. Geen geluid het meer uitgekom nie, geen woorde nie, net strome trane. Figure het gekom en gegaan maar ek het net styf om haar gebly en my bes probeer om al die duisende stukkies van haar bymekaar te hou, maar van hulle het uitgeglip.Sy sal nooit weer haarself wees nie, want daar is stukkies van haar nou weg en dis omdat ek nie almal kon binne hou.

Dis my skuld.

Eendag het sy opgestaan, maar was gou weer terug soos ‘n klein welpie wat die skuiling  verlaat net om te sien die wêreld is nog te groot vir haar en gou weer terug te vlug.Sy het sterker geword en langer van my af weg gebly, maar die skade was gedoen vir ons altwee. Elke aand moes ek weer die gewonde dier hoor huil. Dis meer as wat enige trooskombersie kan hanteer.

Dit was maande voor ek weer gewas is.

Dit was eers na die was dat ek besef het hoe baie haar liggaam verander het. Ek het een nag saggies oor haar gelê, die eerste aand wat sy nie huil het nie.En toe gebeur dit.Dit was eers vinnig soos ‘n vlinder wat teen jou vas vlieg, ‘n ligte aanraking. So lig dat ek my maklik sou kon verbeel, so saggies dat ek dit op enige ander dag maklik nie sou voel nieEk was vinnig wakker en op my hoede, was hier dalk iemand in die huis?

Nee die huis was stil, die vet hond het nie sy kop gelig nie.

Daar is dit weer! Wat is dit?

Iemand wat my stamp?

Nee dis sy, dis haar maag…dis haar baba, jou simple simpel kombersie.

 

 

“Toemaar. Shhhhhhh. Kom Mamma draai jou toe.” het sy gesê en ‘n klein Neelsie in my neergelê. Groot blou oë het na my gekyk en ek het my nou dowwe groen in hulle gesien en jy het vir my geglimlag. Ek was joune en jy was myne al was my soompie los en my garings dun, maar ek was nie jou trooskombersie vir lank nie. Seuntjies word maar vinnig groot. Ek het maar by haar gebly en ons het ons jare saam en alleen spandeer. Daar was net nooit weer een soos Neels en ek kon jou nooit getroos kry nie.

Jou trooskombersie het jou gefaal.

Nou,in ons laaste jare saam, hou ek jou ou liggaam warm soveel as wat so ‘n dun kombersie kan. Ek troos kleinkind na kleinkind maar jy laat my nooit gaan nie.

En eendag, toe die son my van bo warm bak op die bed,het ek gevoel jy bly koud,.Jy het een laaste keer my tot onder jou ken getrek en saggies heen gegaan om Neels te gaan soek.

Ek was alleen en niemand was daar om my te troos.

“Pappa, kan ek Oumie se bersie kry? Dit ruik soos sy.”Klein handjies het my teen ‘n nat neusie gedruk en ‘n paar vinnige trane afgevee.

“Ai boeta, laat ons maar eers kyk of die ou bersie ‘n was kan oorleef. Hy is ook al baie oud vir ‘n kombersie.” het die diep stem geantwoord en groot hande het my gevat. Hy het my reuk diep geruik  en saggies sy verlange vir Mammie gefluister.

Ek het nie die was oorleef.

 

 

Ek weet nie waar ek nou is nie, maar dit ruik of ek skoongewas is en dit voel of ek veerlig in die tuimeldroë dryf. Ek kyk af en ek het…HANDE! Ek het VOETE! Ek begin panikerig raak, ek lyk nie soos ek nie!

Wat gaan aan? Ek kyk verward rond, maar herken geen gesig nie. Skielik staan sy voor my.

“Hallo kombersie.” Sy is jonk en sy is gelukkig en sy vat my hand!

“Moenie bang wees. Jy het bietjie vergeet wie jy was omdat jy jou werk so goed gedoen het, maar jy is nou weer by die huis.” sê sy en wys met die swaai van ‘n arm oor ‘n plek wat ek net kan beskryf as die tuin van Eden. Almal glimlag en gesels in groepies met mekaar. Hier is geen pyn of hartseer of kwaad nie. Ek voel lig, ek voel vry van my lot as trooskombers, as rou kombers.

“Vertel my wie ek is.” sê ek.

Ja ek het iets gesê en my byna lam geskrik vir my eie stem.

“Jy weet wie jy is.” Sy glimlag en haar oë is sag. “Jy is my trooskombersie. Waar ander engele in ons drome ronddwaal en leiding gee of saggies in ons onderbewussyn gaan sit en jou sesde sintuig speel, het jy gekies om direk en fisies te help. Sonder om ‘n woord te praat. Net iemand toevou met liefde en hulle seer absorbeer.”

Sy vryf saggies oor my rug en rus haar kop op my skouer.

“Nou kan jy rus liewe kombersie. Wat wil jy eerste doen?”

Niemand het my nog ooit gevra wat wil EK doen nie. Niemand het my nog ooit enige iets gevra nie.

Wat wou ek doen?

Na 70 jaar op aarde was ek moeg. Ek het ‘n ruskans verdien. Ek kyk na haar en daardie pragtige groen oë. Sy is myne en ek is hare.

 

“Ek wil ‘n trooskombersie wees.”

 

Ek kan nie onthou hoe ek hier gekom het of wat my lewe was voor ek haar ontmoet het nie maar al die beste stories begin so.

 

 

 

Advertisements

9 responses to “Die Trooskombers

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s