As dit alles by jou stop.

download (3)

Ek het baie vroeg al in my lewe besef iets is bietjie af met my. Ek was saam iemand vir wie ek baie lief was, ek wou graag met hom trou maar ek het in trane uitgebars as ek daaraan gedink het dat ons kinders moet kry. Dis nie dat kinders my bang maak nie of dat ek dink babas is jiggie nie, dis net dat ek het nog nooit daardie must.have.one.now gevoel gekry het nie. Eers het ek gedink dit sal verander as die man verander, toe hy weg is en ek steeds nie kinders wil hê nie, het ek begin dink dit sal verander as ek die REGTE man ontmoet en dan kinders kry.

Ek het toe die regte man ontmoet. My perfekte maatjie maar voor ek hom ontmoet het, het ek baie soul searching gedoen. Ek het Eat, Pray, Love gelees en gesien dat daar wel vrouens is wat nie kinders wil kry nie. Dit beteken nie ons hou nie van hulle, dit beteken nie ons is nie baie lief vir ons eie mense se kinders nie, dit beteken net ek gaan nie my eie een bou en grootmaak nie. In enige kultuur is dit vreemd dat ‘n vrou nie wil kinders kry nie. Jou hele lewe is dit van: trou, kry kinders, lewe en gaan dood. Die eerste drie goed wat mense jou vra is van waar is jy, watse werk doen jy en hoeveel kinders het jy. Voorheen sou hulle jou eers vra of jy getroud is en dan vra hoeveel kinders maar dinge het verander, mense is nie meer baie ingestel op trou voor kinders nie.

Ek het juis vir my man gevra of hy kinders soek VOOR ons begin “date” het. As jy antwoord ja was, dan was ons nie nou bymekaar nie. Dis hoe sterk ek daaroor voel. Dis nie ‘n ding wat jy oornag besluit nie. Jy kies basies dat alles by jou stop. ‘n Famielie bloedlyn stop by jou. Die waardes en tradisies van een generasie na die volgende stop by jou. Die erfstukke moet jy aan ‘n broer of suster bemaak en jy moet mooi beplan vir jou ou dag want daar gaan nie kinders wees om te help nie. Dit gaan altyd net jy en jou man en julle diere wees. Jy gaan nie kan saam praat oor alles wat babas, kleuters,kinders en kleinkinders doen nie. Die dimpel in jou wang wat al van jou ouma se ouma op elke dogter se wang verskyn, stop by jou. Dis baie finaal. Veral vir iemand soos ek wat mal is oor tradisie en geskiedenis.

Dis hoekom dit my so kwaad maak as mense aan my karring met wanneer kom die kleintjie en as jy een of ander poep verskoning gee dan reken hulle julle sukkel. Dan kom die jy moet baie sout eet of suurgoed help om swanger te word. Dit laat my skaam kry want daar is niks fout met ons nie, ons wil net nie. Durf nou dit sê hoor. Die eerste antwoord is altyd dit sal anders voel as jy een het. Tot ek my moer gestrip het eendag en vir ‘n tannie gevra het: nou as die baba nou daar is en ek wil hom steeds nie hê, sal jy hom vat en grootmaak?Dink gou vir ‘n oomblik daaroor.

Ek wil nie kinders hê, ek het geen geduld vir hulle, ek hou regtig net van ‘n paar en dis oor hulle vriende en famielie sin is, ek dink die wêreld het te veel mense in elk geval en nou kry ek ‘n kind omdat ek nie wil “uit” voel nie. Wat van as ek lief is vir die kind net omdat ek moet? Wat van as ek nie regtig egtig van my eie kind hou nie? Wat dan? Gee terug is nie ‘n opsie nie. Mense met kinders kan nie so iets indink nie maar ek ken baie vrouens wat lief is vir hulle kinders, maar nie van hulle hou nie. Hulle steek dit net baie goed weg maar hulle kinders weet dit, vemoed dit, voel dit en dis nie regverdig nie.

So hier is ek. Dertig jaar oud. Niks is fout met my nie (my mother had me tested). Ek het net ‘n baie moeilike besluit geneem om nie kinders te kry. Ek wens net dat mense dit kan ophou afbid op my. Ja, ek het al wraggies ‘n tannie gehad wat vir my gebid het en ek het nog nooit iemand daarvan vertel nie want dit het my so geweldig omgekrap. Nou as mense vra wanneer kom die kleintjie dan lieg ek iets of verander die onderwerp. Eendag sal mense tog ophou vra of dink ons kan nie kinders kry nie. En vir die wat wonder, ek en God is good oor die een. Ek het baie met Hom gesels en ek reken as hy wou hê dat ek ‘n ma word, dan sou Hy daardie gevoel in my hart gesit het maar ek kry daardie gevoel net vir harige viervoet kinders. Gelukkig wil my boetie kinders hê.

Die Wit Hasie

 

Advertisements

23 responses to “As dit alles by jou stop.

  1. Kudos vir jou. My oupa wou nie eintlik my pa gehad het nie, en daardie “resentment” het die oukêrel sielkundig gescramble, ‘n gunsie wat hy jou sommer nog ‘n generasie pay it forward het.
    Ons storie is effens anders: Ons wou maar kon nie. Die welmenende familie se alewige inmenging was egter presies dieselfde as in jou geval. Ons het uitgevind dat die beste manier om die gesprek te beeindig as hulle sou vra “waarneer kom die kleingoed dan?” is om vriendelik te glimlag en dan te vra “Baie dankie dat julle vra, maar sê my gou eers; Hoe gaan dit met julle sekslewe?”

    Liked by 2 people

  2. Withasie, ek stem saam met jou. Kinders of nie kinders is elke mens en paartjie se keuse en dit sal baie makliker wees as almal mekaar se keuses aanvaar en respekteer.

    Ek ken ook van tannies en vriende wat namens jou hoop (en meeste van hulle bedoel dit goed) maar meestal is dit ongemaklik en ongevraagd en uiters frustrerend. Ek en Manlief is baie dankbaar dat ons wel die geleentheid gaan hê om ons eie mensie groot te maak maar ons het, na al die mislukkings, berus daarby en vrede gehad daarmee dat ons heel waarskynlik nooit sou kinders hê nie. Ongelukkig kon niemand anders dit regkry nie en die tantes het aanhou pols en steeds ongevraagde raad bly uitdeel. En nou wil almal ‘n stukkie van die shine en dank hê noudat daar wel enetjie oppad is…

    Ek het baie respek vir jul keuse, moet nooit dat iemand jou in ‘n blik druk nie. Sterkte en dink gerus solank aan nog spitsvondige antwoorde om die tannies in hul tee te laat stik!

    Liked by 1 person

    • Ek dink dit onstel mense te veel as ek sê ek soek nie kinders (die wat my ken bedoel ek) want ek het ‘n vreeslike soft spot vir weggooi kinders en gestremde kinders en baie liefde en geduld vir hulle…so hoe kan ek nou nie wil my eie hê?! Ek f*#% weet nie, die koppie vat nie altyd lekker 🙂

      Like

      • Dink jy elke vrou is dieselfde aanmekaar gesit? Nie almal wil kinder he nie. Punt. Ek verstaan nie waarom mense so sensitief is daaroor nie. Bliksem ons almal is mos nie gemaak om dieselfde padjie te stap nie?

        Like

  3. Ja Hasie…
    Ek het juis vir my man gevra of hy kinders soek VOOR ons begin “date” het.
    Ons het ook DIE gesprek gehad, MAAR soos jy gelees het, toe verander die gevoel vir hom en nou sit ek in onsekerland.
    Hou by hoe jy voel – dit is jou keuse! Leef dan so en stort jou liefde op ander maniere uit.

    Liked by 2 people

  4. My oudste seun en my dogter het albei besluit om nie te trou en kinders te hê nie, aan die een kant omdat hulle weet hoeveel negatiewe oorerflike gene van beide kante af in die familie hulle kop uitgesteek het in die later geslagte; aan die ander kant omdat hulle ander soort vreugdes in hulle lewe verkies. Nou vra almal MY (asof ek enige sê het in my kinders se sekslewes!) wat “verkeerd” is. Niks. Hulle wil nie. Klaar.

    Like

  5. Ek stem. Ek sit nou met ‘n ander probleem. Net 1 kind, want 2 soek ek nie. Maar die skuldgevoel! Ja wel. Hoe kan ek nou dan nie vir haar ‘n sussie of boetie gee nie. Nou moet sy “alleen” grootword.
    Ag as society net hulle bekke wil hou!

    Like

  6. Ek voel presies dieselfde! Ek wil nie kinders hê nie, en my man gelukkig ook nie. Ons het baie lekker lewens soos dit is, my katte is my kinders, en as ek regtig ooit iewers voel ek moet, dan neem ek ‘n kind aan.

    Like

  7. Sjoe ek dink nie iemand het die reg om jou besluit hieroor te bevraagteken of eers te bespreek nie – maar ek weet mense doen dit. Dit is aanklig om jou eie baie persoonlike besluite en keuses te moet verdedig terwyl jy die verwyt / afkeur / beterweterigheid / oordeel in die aanhoorders se oë kan lees. Nee ek weet ook nie of dit makliker word nie – mens word dalk later net sielsmoeg vir die hele affere. Sterkte!

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s