‘n Date vir ek en myself

images (7).jpg

Vandag is ek lekker die moer in vir myself of nee, ek is steeds die moer in vir myself van gister af. Ek het gesit en Sims speel tot baie laat want Manlief het die TV gekry sodat hy bietjie kan PS4 speel. Party mense drink om te relax en mense soos ons speel games. Iets kielie my been en omdat altwee my hande besig is moet die kaalvoet wat ookal pla uit sort. Flippen verdomp, dit voel of iemand my vel met boombas probeer af krap. Ek spring op en hardloop badkamer toe om my hak onder behoorlike lig te inspekteer. Dit lyk aaklig, ek huil amper want my voete lyk nooit so nie!! Ek maak seker alles is glad en sag want as ek voetjie-voetjie wil speel dan moet my arme man nie gril nie. Hoe het dit gebeur dat my voete so lyk? Ek marinade gereeld in ‘n bad met olies en pamper dan myself….en daar gaan die liggie aan. Wanneer laas het ek myself gepamper? Duidelik baie lanklaas maar hoe het dit gebeur want ek is iemand wat glo daarin om vir jouself tyd te maak. As jy altyd besig is, altyd ander se belange voor jou eie stel dan is die kans goed jy gaan uitbrand. Jy is die skip wat jou gesin dra en as jy sink dan versuip almal so jy MOET na jouself kyk.

Die PC en TV steel geweldig baie van my tyd. Ek is of besig om te skryf, iets te lees oor skryf, insperasie vir skryf te soek of ek kyk ‘n series (dis nou in MY tyd). Ek ken iemand wat ‘n baie besige mens is maar agv haar gesondheid mag sy nie so besig wees nie. Elke keer as ek met haar praat dan is dit ‘n raas en preek sessie omdat sy net nie kan rustig wees nie.”Ja maar die kinders en die man en die werk.” en dan vertel ek haar van al die kere wat ek ‘n hele dag saam haar spandeer het en ek WEET daar is goed wat sy nie hoef te doen nie maar sy net nie kan los nie. Haar ma is ‘n miljoen keer besiger. Ons spot altyd en sê haar ma gaan nie siek word of so iets nie. Nee, sy gaan net eendag nog so hard besig wees en dan …. DOEF! slaan sy dood neer. Deesdae MOET mens hard werk om te kan oorleef en binne ons kultuur kyk ons neer op mense wat lui is. Die Afrikaner is nie “understanding” as dit kom by dinge soos “me time” nie en nog minder is ‘n man en kinders.

Gelukkig het ek nie kinders so ek kon toe nou lekker in die bad gaan sit en die voete reg ruk maar wat nou gedoen as jy nog gesiggies het wat oor die bad se rand loer want boetie boelie sussies en die een wil water hê en daai een se teddie is weg en en en en….?? Al wat ek kan dink is dat jy moet tyd steel. Jy weet daar is bv ‘n half uur voor hulle huis toe kom van die skool en ipv om jou tyd te vul met iets, gaan sit net. Los die foon en sit net. Doen gou jou naels, skuur jou hakke, eet ‘n stukkie koek in vrede sonder om met almal te deel. Wees net alleen vir 30min en later vandag, steel nog 30min as die kinders in die bed is en jou man lê voor die TV. Los die foon, los die TV en unplug vir 30min….gaan lees ‘n tydskrif of sit ‘n masker op die gesig en spandeer weer net tyd saam jouself. As jy nie tyd saam jouself spandeer nie dan mis jy dalk die tekens van ‘n verkoue wat kom, ‘n spier wat seer bly en net nie gesond word, ‘n knoppie op die been wat nou al knoppies geword het. Jy mis die tekens dat jy jou hele lewe mis.

En dis hoekom ek so kwaad is vir myself. Ek laat ander goed my tyd steel en ek mis die tekens dat my lyf moeg is. Na gister aand se pamper sessie kan ek voel hoe moeg die lyf regtig is. Alles pyn en die gewig is ook nie wat dit was nie. Dis asof ek maande laas na my eie lyf gekyk het en dis nie reg nie. Gaan dink mooi oor JOU tyd en wanneer laas jy net rustig was en as jy nie kan onthou nie….begin so gou jy kan tyd steel vir jouself. Daar is iets soos jouself doodwerk en ek weier om so te gaan. Dis tog ons lewens en ek dink dis ons reg om die pas waarteen dit beweeg te bepaal. Ek gaan van vandag af die TV en PC afsit en net sekere tye daarna kyk. Die res van die tyd is myne!

Die Wit Hasie

Advertisements

2 responses to “‘n Date vir ek en myself

  1. Ek het drie seuns wat almal 2 jaar uit mekaar is. En nee, dit was nie goeie beplanning, blote toeval!

    my punt is, ek MOES leer om tyd vir myself te vat, anders sou ek mal(ler) geword het! Noudat hulle almal groot tieners is is ek BAIE selfsugtig met my tyd, as dit nie jou gaan doodmaak of die huis opblaas nie, kan dit wag.

    😆

    Like

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s