As die storms kom

082.JPGDie son sit op geen skaduwee punt. As jy onder ‘n boom wil koelte soek sal jy jou pens moet intrek om te keer dat die son hom nie soos spek skiet. Die sonbesies skree harder hoe warmer dit word. Elke nou en dan fladder daar ‘n windjie verby soos ‘n groot sug. Ja die aarde is so warm, hy sug. Maar my nek hare kielie, die gevoel dans oor my ore tot op die punt van my neus.Wie sou kon raai daar is soveel haartjies op jou wang. (Ek sal die beautician moet gaan spreek hieroor) Daar is iets in die lug en dis nie die hitte golf nie. Dis die monster wat net ander kant die berg aan gesluip kom. Ek kan haar voel lank voor enige een haar kan sien en geen weerman gaan my vertel wanneer sy haar gesig gaan wys nie.

Die wind tel bietjie vir bietjie spoed op, nie genoeg dat die normale ou dit sal raak sien nie maar genoeg vir ‘n kraai om vere droog te maak. Die hitte druk jou vandag asof iemand die oond se deur toe gemaak het en JY is in die oond. Ek skuif die potte uit van onder die dak, al loer Tuinman vir my want die son gaan mos die goed dood brand. Daar is nou ‘n koeligheid wat saam die wind ry soos wanneer jy net vinnig verby iemand se aircon kantoor stap.

Ek is onrustig, op en af in die huis. Dis soos om vir familie op die plaas te wag en dan staan jy op die stoep en luister vir die geraas van ‘n kar op grondpad. Ek wag vir die brul van die monster. Jy hoor dit lank voor jy haar sien. Dit klink soos ‘n lorrie wat te vinnig oor ‘n hobbel jaag. Jy gaan staan, hand bak oor die oë en soek in alle rigtings vir daardie donkerte. My maag trek saam soos ‘n meisie wat haar eerste soen gaan kry. Dan gaan lê die wind, die voëltjies word stil, die diere gaan lê en almal wag vir haar opvoering om te begin. Jy sien die eerste bliksemstraal van die hemel af hardloop en die aarde ‘n piksoen gee en dan klap haar sweep dat jy wip. Die sirkus is oop. Heen en weer spring die weerlig soos sweefstok-artieste en Moedernatuur klap haar sweep dat die grond onder jou voete bewe. Die oond is nou op sy hoogste gestel en die warm lug brand jou keel tot in jou longe. Net as jy dink Sy gaan die asem uit jou druk, sien jy die horison verdwyn agter die grys gordyn. Van ver lyk dit soos chiffon wat uit die wolke hang en dan klap sy weer haar sweep om die reëngordyn aan te jaag.

‘n Golf wind maak die pad skoon vir die reën en tref jou so hard dat jy amper op jou agterent beland. Die wind ruk en pluk aan alles soos narre wat jou aandag wil gryp vir die hoof vertoning. Sssssshhhhhhhhhhh kom die geluid van die reën. Dit word harder en harder soos dit nader hardloop en vir ‘n oomblik wonder jy of ‘n vliegtuig nie van agter die gordyn gaan bars en jou plat val nie. Dan tref daardie eerste vet druppel jou op die wang soos ‘n ma wat ‘n kleintjie soen en Moerdernatuur maak die wolke oop oor jou huis. Die klippe spoeg stoom en die grond drink dorstig elke druppel op tot hy nie meer kan en klein stroompies slootjies die pad af trek. Nou kan jy weer asem skep want sonder dat jy dit besef het, het jy jou asem ingehou vir hierdie groot skouspel. ‘n Glimlag trek oor jou gesig en die wêreld klap hande vir Moedernatuur se meesterstuk.

Die Wit Hasie

Advertisements

12 responses to “As die storms kom

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s