Wat maak die Bure

Ek word wakker van ‘n vrou se stem wat iets sing en ‘n koor  vroue wat dan agter haar aan sing. Verdomde kerk word weer om my voorstoep gehou is wat ek eerste dink maar ek ken nou al die kerk se sing, dis harder en maller asof hulle desperaat is. Hierdie gesing is rustig, vrolik en jy kan hoor tussenin word daar gelag en gesels. My “spirit animal” is ‘n “fox” volgens een of ander guru en deel hiervan is dat ek baie nuuskierig is. Nou ja, ek is toe op om te gaan kyk waaroor gaan die gesing en vergeet om my kamera saam te vat.(Anders kon ek julle wys wat ek sien) Buite ons huis, net ander kant die draad is die “bure” se mielielande. Die groep vrouens is besig om bossies uit te skoffel. Die eerste vrou staan op en sing, dan sak sy af om verder te skoffel en die ander ses staan op en sing agter haar aan, sak dan af en skoffel verder. So werk hulle ry vir ry met twee mans agter na om die bass te verskaf. Nee, eintlik loop hulle met die sakke “plantjiekos” wat hulle oor die mielies gooi waar die vrouens klaar skoon gemaak het.

Ek verkyk my aan die klomp. Daar is geen haas, niks jaag hulle nie en as hulle moeg word (wat baie min is) dan sit hulle en gesels so bietjie, lag te lekker en die kleintjies bring die babas om te kom drink. Dit lyk aardig om ‘n kind van seker 4 ‘n baba te sien dra om ma se borsmelk te kry voor hulle weer terug na die huisies verdwyn. Party babas is amper so groot soos die oppassertjie. Dis ongelooflik hoe hard hierdie vrouens kan werk en hoe vrolik hulle is terwyl hulle dit doen. My “kultuur gits” was af vir die dag so daar was nie iemand om vir my te vertel wat hulle gesing het nie maar ek het dit geniet. Dit het woema in my gat gesit om ook bietjie in my tuin te werk en meer aandag te gee aan die seep, olies en salf wat ek wil maak. Hulle het vriendelik gegroet toe hulle klaar is en terug na hulle huisies stap, nie lank daarna het ek helder lappe op die draad sien wapper…hulle het wraggies tyd vir wasgoed doen ook. Ek het my sagte lyfie so kyk gegee en half skaam in die huis ingegaan.

Vanoggend hoor ek die sweep klap, die “hey, hey” en skril fluit. Daar word geploeg en die manne is al vroeg op met die osse. Agterna kom die kleintjies met sakke saad en kunsmis, verlos van baba oppas vir die dag. Die wat nie help met die plant hardloop laggend rond agter die bokke en beeste om hulle uit die mielieland te hou. Soms raak hulle te besig met hulle eie dinge en een van die bokke sal sy kans kry om tussen die miielies in te dwaal. Dan kom ‘n ouer boetie vinnig agter die huis uit, jaag die bok en gooi die kleintjies met ‘n klip terwyl hy raas met hulle. Die klomp hol uitgelate weg. Ek geniet dit om so op my bure te “spy”. Daar is nooit ‘n gejaag om iets klaar te kry nie en dit maak my so bietjie jaloers. Ag en terwyl ek hier sit en tik, luister ek na die bostelefoon. Wat is dit vra jy….dis as Piet in sy landery staan en met Jan gesels, wat twee landerye verder is. Dit krap soms aan my gat as hulle so staan en skree vir mekaar want dit klink alewig of hulle baklei. Nou dat ek so klein bietjie van die taal verstaan hou ek daarvan want nou kan ek ook hoor wat die nuus is hier om ons. Vandag se hoofnuus: Goggas op die mielies.

Die Wit Hasie

Advertisements

2 responses to “Wat maak die Bure

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s