Totsien: ‘n Storie

Totsiens

Daar sit hulle alweer. Om die kombuis tafel, laggend en aan die gesels. Hulle groet haar met glimlagte en blydskap. Dis warm, bekend en gelukkig. En dan verander alles in grys water en sy word wakker en sy onthou, hulle is weg. Sy draai haar gesig in die kussing in om die kreun geluid te smoor en om te keer dat sy huil want sy kan die stukkies van haar hart in haar keel voel opstoot. Sy staan op en trek aan. Vat haar tas en gaan klim op ‘n vliegtuig. Sy was lanklaas in haar eie land, die vliegtuig sak en deur die wolke sy landskap, bekende paaie en geboue. ‘n Morbiede gevoel het om haar gevou soos ‘n kombers.

“Reason for visit”

“Om vir die laaste keer deur my ouma en oupa se huis te gaan stap.”

Die gewone geselsies oor almal se probleme maak die pad korter en haar hart swaarder. Die tas word afgelaai en sy klim alleen in die kar en ry die bekende pad “op” na die huis. Hoeveel keer is sy nie al die pad op nie? Per fiets, per kar, per poot het sy vinnig soentoe gevlug as die wêreld haar siel moeg gemaak het. Soms het sy gaan kuier om te gesels en ligter te voel, soms het sy gaan kuier net om vir ure in stilte te sit en TV kyk. Ouma wat tee aan dra, oupa wat nooit iets kan kry om te kyk op TV en dan eerder boek lees net om vyf minute later in sy stoel te sit en slaap.

Oumas en Oupas is ‘n geskenk. Gewoonlik was hulle nie so goed as ouers nie maar met kleinkinders kry hulle ‘n tweede kans en dan is hulle uitstekend. Haar oumas en oupas het haar soms beter verstaan as wat sy haarself verstaan het. Woorde gegee om gevoelens te beskryf, deur die kwaad gesien en verstaan dis eintlik pyn en nooit bevraagteken hoekom sy skaam is nie…net plek gemaak daarvoor. Elke “Hallo” was asof hulle jou jare laas gesien het, al was jy gister daar. Elke “Totsiens” was die laaste totsien ooit, tot dit regtig die laaste een was. Hulle het dinge gesien in jou lewe wat jy so mooi vir almal probeer wegsteek want saam grysheid kom wysheid en oumens oë kan dalk nie lees, maar hulle sien alles.

Jy was altyd hulle “prys” en was iets om oor te spog, soms tot die punt wat jy net wil weghardloop maar soos jy ouer geword het, het jy verstaan. Jy was die prys want vir jou het hulle ‘n blink toekoms gesien en in die geheim gehoop hulle sal lank genoeg daar wees om in dit te deel.

Sy stop voor die huis en sit lank in haar kar. Daar is niemand wat hek toe kom met ‘n groep blaffende hondjies al om hulle. Wat eens ‘n toevlug was, is nou ‘n “crypt” waarin spoke dwaal. Spoke van vele kersfeesetes, van Sondag familietyd, van naweke se baljaar in die swembad en braai partytjies met kleurvolle ligte. In die huis is dit stil. Die warm is weg. Die geluk is weg. Hulle reuk is weg. Die huis se asem is weg. Nou is die huis ook dood. Sy staan in die deur van die kombuis en ‘n miljoen gesprekke dryf soos mis deur die woud voor haar. Sy kan die yskasdeur hoor oop gaan en van agter ‘n klein dogtertjie uit die donker gang aangesluip sien kom. Twee glase met witbrood, suiker en melk staan op die tafel en wag. Oupa se midnight snack saam haar en hy het altyd met ‘n tikkie hartseer vertel hoe hy en sy ma dit gedoen het.

Sy kyk by die agter deur uit na die boom wat geplant is toe haar pa gebore is. ‘n Ou reus wat een keer haar boetie uit sy takke geskud het en hom byna sy lewe gekos het. Sy kan hoor nog sy gille, sien sy misvormde hand en soms kry sy nog nagmerries oor daardie dag. Maar sy onthou ook hoe hulle die hond leer boom klim het en wanneer mense haar uitgeput het, het sy en die hond in die boom gaan sit en staar vir niks tot sy beter gevoel.

In hulle kamer gaan sit sy op die bed. Hier en daar ontsnap bekende reuk asof ‘n klein stoomtrein deur die kamer beweeg. Soet parfuum wat jou keel brand, seep en sweet met ‘n snaakse cologne gemeng en peppermint. Sy is seker as sy een van ouma se handsakke oopmaak sal daar ‘n handvol wit peppermint klippies in wees. Haar ma is ook gek oor daardie sweets.

In die studeerkamer, omring met al hulle boeke kom haar groet tot ‘n einde. Sy gaan sit op die mat en gooi haar hart se stukkies daar uit. In hierdie kamer, met sy houtrakke tot teen die dak het sy haar verbeel dat sy ‘n bekende skrywer was. Sy het ure deur boeke geblaai wat sy niks van verstaan het nie behalwe dat hulle oud was. Daar was ‘n opwen horlosie in die kamer wat die mooiste deuntjie gespeel het. Die beste manier om dit te beskryf is “hauntingly beautiful” maar sy weet tot vandag toe nie wat dit was nie. Die horlosie is nou lankal stukkkend, weg en dis net in haar kop waar die deuntjie speel. Dieselfde plek waar haar ouma en oupa nou is.

Mense verstaan nie hoekom sy so klou nie. Dis net goed, dis net ‘n huis, dis net ‘n ouma en oupa gewees. Dis ‘n ouma en oupa wat sy klaar dinge van vergeet. Hoe oupa se lag geklink het, hoe ouma se stem geklink het as sy die foon antwoord, die plooie op hulle gesigte of hulle gunsteling gesang. Dis nie aspris nie. Dis net asof hulle in die huis sit en gesels en sy al verder van die huis af dryf tot sy in die straat staan en vir hulle deur die venster moet kyk. Om oupa se skeerroom te vat of ouma se trei te dra kan haar dalk net ‘n bietjie langer in die huis anker of selfs buite op die stoep…al is dit net een dag langer.

Sy kyk af na die stukkies van haar hart soos dolossie op die mat uitgesprei en sy voel so bitter alleen. Ouma en Oupa Plaas sit ver in die stad, te ver om na te vlug as mense te veel word vir haar, as niemand verstaan sy is nie ongeskik net ongemaklik net skaam. En vir nou, hier waar sy sit voel dit of die laaste mense wat haar werklik verstaan net buite haar greep staan en die ander twee teen ‘n slakkepas uit haar geheu verdwyn.

Vreemdes staan in die sitkamer, reg om te koop wat niemand wil hê. Haat, bitter en woede het nou hier kom intrek. Sy vat ouma se kristal swaan uit ‘n gierige koper se hand en gooi dit flenters teen die muur.

“Fix dit. Maak dit weer heel en dan kan jy my vertel hoe om my binnekant reg te maak.”sê sy vir die bekende gesig wat nou ‘n vreemdeling geword het. Sy stap uit, verby die laventel bosse en vryf saggies oor die pers blomme om hulle te kielie tot hulle bekende geur die hartseer verdryf en ‘n mantel van troos om haar vorm. Sy kyk terug na die huis en vir ‘n oomblik kan sy sweer sy hoor hulle weer lag en gesels en iewers tussen deur speel pumkin patch.

 

Advertisements

2 responses to “Totsien: ‘n Storie

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Verander )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Verander )

Connecting to %s